r Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and
Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and icon

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and






Download 269 Kb.
TitleSaflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and
Page1/3
Date conversion27.03.2012
Size269 Kb.
TypeДокументы
  1   2   3






SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy


VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saaknommer : 29/2008

In die saak tussen:-


J P G Eiser


en


M S G Verweerderes


_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 21 MEI 2010

_____________________________________________________


  1. Hierdie is ʼn egskeidingsgeding waarin eiser die volgende regshulp teen verweerderes gevorder het:


“1. ʼn Bevel van egskeiding.

2. ʼn Verklarende bevel waarkragtens die lewensreg-ooreenkoms tussen die partye beëindig word en dat verweerderes gelas word om haar 10% belang aan die eiser oor te dra teen betaling van R20 000.00.

3. Koste van die geding, slegs indien verdedig.”


  1. In haar teeneis vorder verweerderes (eiseres in rekonvensie) die volgende regshulp:


“7.1 ʼn Bevel van egskeiding.

7.2 Betaling van onderhoud aan die verweerderes ten bedrae van R6 800.00 per maand.

7.3 ʼn Bevel wat eiser gelas om die verweerderes se redelike mediese-, tandheelkundige-, oogkundige-, hospitalisasie- en aptekerskoste te betaal.

7.4 Uitvoering van die huweliksvoorwaardekontrak aangegaan tussen die partye:

7.5

7.5.1 ʼn Bevel wat eiser gelas om alle dokumentasie te onderteken wat nodig is om gevolg te gee aan die bepalings van die huweliksvoorwaardekontrak, alternatiewelik wat die Griffier magtig en gelas om sodanige dokumentasie namens hom te onderteken;

7.5.2 Alternatiewelik tot 7.4 en 7.5.1 hierbo, ʼn bevel wat eiser gelas om aan verweerderes skadevergoeding in die bedrag van R200 000.00 te betaal, tesame met rente a tempora morae bereken vanaf 17 Maart 2005, alternatiewelik vanaf datum van verlening van hierdie bevel.

7.6 ʼn Bevel wat eiser gelas om toe te sien dat die tersaaklike Fonds en Skema wat die polis wat deur die eiser aan verweerderes geskenk is beheer, ʼn aantekening in hul rekords maak dat voormelde deel van die pensioen, polis of annuïteit sodanig aan verweerderes betaalbaar is.

7.7 Koste van die geding.

7.8 Sodanige verdere en/of alternatiewe regshulp as wat die Agbare Hof mag verleen.”


  1. Vir doelmatigheidsredes sal deurentyd na die partye verwys word as “eiser” en “verweerderes” soos na verwys in die hoofeis.


^ GEBEURE TEN TYDE VAN DIE VERHOOR VOORAFGAANDE DIE AANBIED VAN GETUIENIS EN AGTERGROND MET BETREKKING TOT DIE VERLOOP VAN DIE VERHOOR:


  1. By die aanvang van die verhoor op 2 Junie 2009 het eiser ʼn tender ingevolge Hofreël 34 met benadeling van regte aan verweerderes gemaak met die volgende inhoud:


“1. ʼn Bevel van egskeiding.

2. Dat eiser aan verweerderes oorbruggingsonderhoud betaal in die bedrag van R5 000.00 per maand vir ʼn periode van twaalf maande vanaf datum van egskeiding.

3. Dat verweerderes geregtig sal wees op die voordele van die verblyfregooreenkoms met Hibiscus Retirement Villages op die terme en voorwaardes soos uiteengesit in die ooreenkoms gedateer 22 Maart 2005, alternatiewelik na keuse van verweerderes om die ooreenkoms te kanselleer in welke geval die eiser aan die verweerderes ʼn bedrag van R20 000.00 sal betaal.

4. Dat eiser verweerderes se getakseerde party en party koste betaal tot en met datum hiervan.

5. Die tender is oop vir aanvaarding tot en met die aanvang van die verhoor waarna dit verval.”


Nadat mnr. Reinders, namens eiser, die tender aan die Hof voorgehou het, het mnr. Zietsman, namens verweerderes, aangedui dat die tender nie deur verweerderes aanvaar word nie.


  1. Onmiddellik daarna het mnr. Reinders argumente aan die Hof voorgehou tot dien effekte dat ten spyte van ʼn ooreenkoms aangegaan tydens die Reël 37 samesprekings tot die teendeel, verweerderes behoort te begin met die aflegging van getuienis. Ten tyde van die submissies wat hy aan die Hof voorgehou het en voortspruitend uit sekere vrae wat ek aan hom hiertydens gestel het, het mnr. Reinders aangedui dat eiser die vorderings soos uiteengesit in die besonderhede van vordering, abandoneer met uitsluiting van die bevel van egskeiding. Nadat ek volledige argumente voortspruitend hieruit deur beide mnr. Reinders en mnr. Zietsman aangehoor het, het ek ʼn ex tempore uitspraak gegee waarin ek bevind en gelas het dat eiser met die aanbied van getuienis moes begin.




  1. Daarop het mnr. Reinders aangedui dat die eiser wat sy hoofeis betref, sy saak sluit. In reaksie hierop het ek weer volledige betoë deur beide partye se regsverteenwoordigers aangehoor met betrekking tot wat die gevolge hiervan behoort te wees. Mnr. Zietsman het betoog en versoek dat absolusie van die instansie met betrekking tot die hoofeis toegestaan behoort te word, met `n gepaardgaande spesiale kostebevel. Ek het gevolglik nog ʼn ex tempore uitspraak gelewer waarin ek wel absolusie van die instansie ten opsigte van die hoofeis verleen het, met eiser om die koste daarvan te betaal (geen spesiale kostebevel nie).




  1. Na die verlening van voormelde bevel, het verweerderes as applikant onder aansoeknommer 2750/2009 ʼn Reël 43(6) aansoek gerig waarin sy ʼn verdere bydrae tot haar regskoste gevorder het. Voortspruitend hieruit is daar betoë aan my voorgehou met betrekking tot die vraag of dit die gepaste stadium was vir verweerderes om sodanige aansoek te liasseer en of dit nie eers die volgende dag, dit wil sê op 3 Junie 2009, geliasseer en aangehoor moes word nie. In die verband het mnr. Reinders aangevoer dat verweerderes verplig behoort te word om die beskikbare hoftyd te gebruik om te begin met die aanbied van getuienis ten opsigte van haar teeneis. Na die aanhoor van betoë, het ek die volgende bevele gemaak:


“1. Die aangeleentheid word uitgestel tot Woensdag, 3 Junie om 09h30.

2. Dit word op rekord gestel dat hierdie bevel om 15:25 verleen word.

3. Insoverre daar enige verspilde koste ten opsigte van die oorblywende hoftyd ter sprake is, staan dit oor vir latere beregting.”


  1. By die aanvang van die verhoor op 3 Junie 2009, het dit geblyk dat eiser as respondent in die Reël 43(6) aansoek toe ook intussen ʼn opponerende beëdigde verklaring geliasseer het. Na die aanhoor van (weereens) volledige betoë en argumente deur beide mnre. Zietsman en Reinders, het ek dit gerade geag om ʼn ex tempore uitspraak ook ten opsigte van die Reël 43(6) aansoek te gee, waarin ek die Reël 43(6) aansoek van die hand gewys het en gelas het dat die koste daarvan koste in die geding is.




  1. Ter agtergrond kan reeds op hierdie stadium vermeld word dat na voormelde afwysing van die Reël 43(6) aansoek, mnr. Zietsman verweerderes se getuienis aangebied het ten opsigte van haar teeneis. Na afsluiting van haar getuienis is die getuienis van twee verdere getuies aangebied, synde die van mnr. Pieter Sarel Jooste, die boekhouer van eiser, en laastens die getuienis van John Christopher Webster, synde die Hoof Uitvoerende Beampte van Hibiscus Retirement Villages. Nadat verweerderes haar saak ter ondersteuning van haar teeneis gesluit het, het mnr. Reinders aangedui dat eiser sy saak ten opsigte van verweerderes se teeneis sluit sonder om getuienis aan te bied. Volledigheidshalwe moet ook vermeld word dat na die afhandeling van verweerderes se eie getuienis, die aangeleentheid deelsverhoor geword het en is die verrigtinge hervat op 1 Desember 2009. Ek was egter in besit gestel van ʼn getranskribeerde oorkonde van die verrigtinge tot op daardie datum, welke ek aanvaar op versoek van een van die partye sodanig getranskribeer is. Dit het my voorbereiding vir en die voortgesette hantering van die verhoor beduidend vergemaklik.


^ VORDERING VIR BEVEL VAN EGSKEIDING:


[10] Hoewel die redes vir die verbrokkeling van die huwelik in dispuut is, is die partye dit eens dat die huwelik tussen hulle onherstelbaar verbrokkel het en dat `n bevel van egskeiding verleen behoort te word.



^ VERWEERDERES SE VORDERING MET BETREKKING TOT DIE LEWENSREG TOT OKKUPASIE VOORTSPRUITEND UIT DIE HUWELIKSVOORWAARDEKONTRAK:


A: Gebeure en feite wat gemeensaak is:

[11] Daar is sekere gebeure en feite agterliggend tot en wesenlik vir die beregting van hierdie aangeleentheid wat voortspruitend uit die viva voce getuienis en/of die tersaaklike bewysstukke en/of die pleitstukke geag kan word gemeensaak te wees en wat ek meen doelmatig is om op hierdie stadium uiteen te sit.


11.1 Eiser is tans ongeveer 68 jaar oud. Verweerderes is tans ongeveer 58 jaar oud. Eiser en verweerderes is die eerste keer gedurende 1997 getroud, waarna hulle gedurende Februarie 1999 geskei is. Daarna is die huidige huwelik tussen die partye gesluit op 24 Maart 2005, welke huwelik gesluit is buite gemeenskap van goedere en met uitsluiting van die aanwasbedeling. Die huweliksvoorwaardekontrak gesluit tussen die partye op 17 Maart 2005 en welke geregistreer is op 19 April 2005, is aangeheg tot die teeneis as aanhangsel “VA”. Die oorspronklike huweliksertifikaat is ten tyde van verweerderes se getuienis ontvang as bewysstuk “A”.


11.2 Op 10 Oktober 2002 het eiser ʼn skriftelike kontrak gesluit met Hibiscus Retirement Villages (hierinlater na verwys as “Hibiscus”) welke ooreenkoms getiteld was “Life Right Agreement” en na welke ooreenkoms ek voortaan sal verwys as “die eerste lewensregooreenkoms”. In terme van hierdie eerste lewensregooreenkoms is eiser die “sponsor” of borg, met ander woorde die persoon wat die bedrag geld betaal het ten einde ʼn lewensreg te bekom met betrekking tot die okkupering van die eenheid wat deel vorm van Hibiscus, synde Eenheid 412 Hibiscus Heights, in die oord te Margate wat bekend staan as Village of Happiness (hierinlater na verwys as “die eenheid”). In terme van hierdie eerste lewensregooreenkoms het eiser as borg homself as okkupeerder van die eenheid nomineer. Die bedrag van R160 000.00 is vir hierdie lewensreg tot okkupasie van die gemeldde eenheid, betaal. Hierdie eerste lewensregooreenkoms kom voor op p. 4 tot p. 12 van eiser se verhoorbundel, bewysstuk “B”. Sekere tersaaklike klousules van die eerste lewensreg- ooreenkoms lees as volg:


2.7 The Occupier shall not be entitled to make over, cede, assign or sub-let his rights to occupy the Unit in any way whatsoever or permit any other person to occupy the Unit without the prior written approval of the Society.”

“3.2 On payment of the Sponsorship Amount the Occupier shall be entitled to the use of the Unit and to occupy same free of rent during his lifetime. Such occupation is subject to the conditions of this agreement and the Society’s rules and regulations which may be amended by the Society from time to time.”

“4.7 On the death of the sole Occupier or the last of joint Occupiers, the right of occupation shall cease and the Unit shall revert to the Society.

4.8 Any person not nominated under this agreement at the time of entering into this agreement and who is not party to this agreement shall have no right to occupation under this agreement.”

“14.1 The Sponsor or the estate of the Sponsor shall receive a refund from the Society of the Sponsorship Amount subject to the following provisions:

14.1.1 On transfer of the Occupier or last of joined Occupiers to the Frail Care Facility on a permanent basis; or

14.1.2 On the death of the sole Occupier or the last of joint Occupiers; or

14.1.3 In the event of the Occupier or the last of joint Occupiers deciding to abandon his right to occupy the Unit for any reason whatsoever.

14.2 Where there are joint Sponsors, the amount of the refund shall be proportional to the contribution by each Sponsor as set out in this agreement.”


    1. Op 17 Maart 2005 toe die huweliksvoorwaarde-kontrak gesluit is tussen die partye, is as volg in klousules 3 en 4 daarvan ooreengekom:


“3. In konsiderasie van die voorgenome huwelik, sedeer JOHANNES PETRUS GENIS die opbrengs van die Discovery Life Polis Nr. 1071618290, welke JOHANNES PETRUS GENIS op sy lewe uitgeneem het, aan sy voorgenome eggenote, MARIA SOPHIA MARAIS, welke polis aan haar uitbetaal moet word by die afsterwe van JOHANNES PETRUS GENIS.


Indien MARIA SOPHIA MARAIS reeds vooroorlede is by die afsterwe van JOHANNES PETRUS GENIS, sal genoemde Discovery Life Polis Nr. 1071618290 terugval in die boedel van JOHANNES PETRUS GENIS en in terme van sy Testament vererf word.


4. JOHANNES PETRUS GENIS het in terme van `n ooreenkoms met Hibiscus Retirement Villages te Margate, ʼn Lewensregooreenkoms gesluit in terme waarvan JOHANNES PETRUS GENIS ʼn lewensreg verkry het op ʼn eenheid om daarin te woon tot by sy afsterwe.


JOHANNES PETRUS GENIS sedeer hierdie lewensreg in terme van die ooreenkoms aan en ten gunste van MARIA SOPHIA MARAIS bepaal dat hierdie lewensreg waarop hy geregtig is in terme van die ooreenkoms met Hibiscus Retirement Villages, MARIA SOPHIA MARAIS sal toeval tot by haar dood.


Dit word uitdruklik bepaal dat die bedrag welke deur JOHANNES PETRUS GENIS betaal is om die lewensreg te verkry, sy boedel sal toeval by die plaasvind van die volgende gebeurtenisse:


4.1 Op datum van oorplasing van die laaste een van JOHANNES PETRUS GENIS of MARIA SOPHIA MARAIS na die “Frail Care Facility” te Hibiscus Retirement Villages.

4.2 By die afsterwe van die laaste een van JOHANNES PETRUS GENIS of MARIA SOPHIA MARAIS.

4.3 By afstanddoening van die lewensreg deur die langslewende van JOHANNES PETRUS GENIS of MARIA SOPHIA MARAIS.”


Gegewe die datum volgorde van die gebeure tot op daardie datum, blyk dit dus duidelik dat die lewensregooreenkoms waarna verwys word in klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak, die eerste lewensregooreenkoms is waarna ek reeds hierbo verwys het.


    1. Op 22 Maart 2005, dit wil sê twee dae voor sluiting van die partye se huidige huwelik, het beide eiser en verweerderes as “sponsors” en ook beide eiser en verweerderes as okkupeerders ʼn nuwe lewensregooreenkoms met Hibiscus gesluit, welke ooreenkoms ek hierinlater na sal verwys as “die tweede lewensregooreenkoms”. Hierdie ooreenkoms kom voor op p. 13 tot p. 20 van bewysstuk “B” en is ook aangeheg as aanhangsel “A” tot eiser se besonderhede van vordering. Op dieselfde datum, dit wil sê 22 Maart 2005, is die eerste lewensregooreenkoms wat gesluit was tussen eiser en Hibiscus, ook dan gekanselleer, soos blyk uit p. 12 van bewysstuk “B”. In terme van die tweede lewensregooreenkoms is die bedrag van R200 000.00 betaal, deurdat die bedrag van R160 000.00 wat in terme van die eerste lewensregooreenkoms deur Hibiscus ontvang is, ten gunste van die uitvoering van hierdie tweede lewensregooreenkoms aangewend is en was daar ʼn balans van R40 000.00 betaalbaar, welke bedrag inderdaad betaal is. Dit is gemeensaak dat van die totale bedrag van R200 000.00 verweerderes die bedrag van R20 000-00 betaal het en word dit ook aldus gereflekteer in die ooreenkoms, deurdat eiser aangedui word as synde dat hy 90% bygedra het en verweerderes aangedui word as synde dat sy 10% bygedra het. Die eenheid ten opsigte waarvan hierdie lewensreg deur eiser en verweerderes bekom is en ten opsigte waarven beide van hulle as okkupeerders genomineer is, is dieselfde eenheid as waarna verwys is in die eerste lewensregooreenkoms. Origens is die wesenlike terme en voorwaardes, die tersaaklike waarvan ek reeds in sub-paragraaf 11.2 hierbo aangehaal het, dieselfde as in die eerste lewensregooreenkoms, behalwe dat die numering van die aangehaalde klousule 14, in die tweede lewensregooreenkoms gewysig is na 13.




    1. Voormelde het tot gevolg dat eiser se regte voortspruitend uit die eerste lewensregooreenkoms, wat eiser in die huweliksvoorwaardekontrak ten gunste van verweerderes sedeer het, op die datum van huweliksluiting en op datum van die registrasie van die huweliksvoorwaardekontrak, reeds gekanselleer was en nie meer bestaan het nie, aangesien die eerste lewensregooreenkoms toe reeds gekanselleer was.


B: Die pleitstukke:

  1. Dit is vervolgens nodig om te let op die inhoud van die pleitstukke met besondere verwysing na verweerderes se vordering met betrekking tot voormelde lewensreg en die alternatiewe daartoe. In verweerderes se teeneis is dit as volg gepleit in paragraaf 6 daarvan:


“6.1 In terme van die voormelde huweliksvoorwaarde-kontrak wat tussen die partye aangegaan is, het die eiser skenkings aan die verweerderes gemaak, welke skenkings deur verweerderes aanvaar is.

6.2 Eiser het nog nie in terme van die gemelde bepaling van die huweliksvoorwaardekontrak presteer nie; alternatiewelik versuim om in terme daarvan te presteer.

6.3 Die verweerderes is geregtig op en dring aan op prestasie deur die eiser in terme van onder andere klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak.


6.4 Alternatiewelik tot paragraaf 6.3:

6.4.1 Het die eiser ten tyde van die sluiting van die huweliksvoorwaardekontrak aan die verweerderes voorgehou dat hy in terme van die bepalings van klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak kan presteer, alternatiewelik het hy nie aan die verweerderes openbaar dat hy nie in terme van klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak kan presteer nie, terwyl die eiser die plig gehad het om dit aan die verweerderes te openbaar aangesien:

6.4.1.1 dit die tweede huwelik tussen die eiser en die verweerderes was en die eiser geweet het dat die verweerderes nie met die eiser in die huwelik sou tree indien daar nie vir die verweerderes permanente toekomstige huisvesting gewaarborg kon word nie; en

6.4.1.2 die eiser geweet het dat die verweerderes, omdat sy die skenking aanvaar het, haar eie woning gaan verkoop en inderdaad verkoop het.

6.4.2 Die eiser het geweet dat sy voorstellings soos in paragraaf 6.4 hierbo vals is, alternatiewelik was sy versuim om aan die verweerderes te openbaar dat hy nie in terme van klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak kan presteer nie, bedrieglik;

6.4.3 Die voormelde valse voorstelling, alternatiewelik die voormelde versuim om te openbaar dat die eiser nie in terme van klousule 4 van die huweliksvoorwaarde-kontrak kan presteer nie het die verweerderes beweeg om die huweliksvoorwaardekontrak met die eiser aan te gaan en bygevolg die skenking, alternatiewelik die sessie vervat in klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak te aanvaar en daarna met die eiser in die huwelik te tree;

6.4.4 Weens die eiser se bedrog soos in paragraaf 6.4.1 vermeld ly die verweerderes skade in die bedrag van R200 000.00, synde die waarde van die lewensreg.


6.5 Alternatiewelik verder tot paragrawe 6.3 en 6.4:

6.5.1 Die bewerings in paragrawe 6.4.1, 6.4.2, en 6.4.3 word herhaal.

6.5.2 Die voormelde voorstelling was wesenlik.

6.5.3 Die voorstelling is deur die eiser gemaak met die doel om die verweerderes te beweeg om met die eiser ʼn huweliksvoorwaardekontrak aan te gaan en om met die eiser in die huwelik te tree.

6.5.4 Die voorstelling het die verweerderes beweeg om die huweliksvoorwaardekontrak met die eiser te sluit en om met die eiser in die huwelik te tree.

6.5.5 Weens die eiser se voormelde valse voorstelling ly die verweerderes skade in die bedrag van R200 000.00 synde die waarde van die lewensreg.”


In eiser se verweerskrif tot verweerderes se teeneis, het eiser as volg op voormelde bewerings gepleit:


“5.

^ AD PARAGRAWE 6.1, 6.2 EN 6.3 DAARVAN:

5.1 Eiser pleit dat die lewensregooreenkoms met Hibiscus Retirement Villages ʼn pactum de non cedendo vervat;

5.2 Ten tyde van die sessie was daar geen skriftelike toestemming verleen deur Hibiscus Retirement Villages vir die sessie van die eiser se verblyfreg aan die verweerderes nie;

5.3 Bygevolg is die sessie soos vervat in die huweliksvoor-waardekontrak ongeldig; en

5.4 Is die verweerderes nie geregtig op die lewensreg (bewoning) van die eenheid by die aftree-oord nie.


Alternatiewelik pleit eiser:

1. Dat na die aangaan van die huweliksvoorwaarde-kontrak die partye ʼn ooreenkoms gesluit het met Hibiscus Retirement Villages op die basis soos uiteengesit in aanhangsel “A” tot die besonderhede van vordering waarkragtens verweerderes ʼn 10% belang verkry uit hoofde van die bepalinge van die ooreenkoms met Hibiscus Retirement Villages soos uiteengesit in aanhangsel “A” tot die besonderhede van vordering.

2. Dat eiser en verweerderes gebonde is aan sodanige ooreenkoms synde aanhangsel “A” tot die besonderhede van vordering en dat die bepalinge van die Akte van Dading (sic) bygevolg nie meer afdwingbaar is ten opsigte van die bewoningsreg van die verweerderes soos uiteengesit in die huweliksvoorwaardekontrak nie.


Alternatiewelik indien die Agbare Hof mag bevind dat eiser, eiser se bewoningsreg gesedeer het aan verweerderes en dat dit afdwingbaar is, dan en in daardie geval pleit eiser:

dat daar ʼn gemeenskaplike dwaling was ten aansien van die terme van die huweliksvoorwaardekontrak en dat dit nooit die eiser of die verweerderes se bedoeling was dat eiser uit en uit eiser se lewensreg ten aansien van die eenheid te Hibiscus Retirement Villages aan verweerderes sou gesedeer het nie, maar slegs die reg om ook die eenheid te bewoon tot en met haar afsterwe en sal daar tydens die verhoor aansoek gedoen word vir die rektifikasie van die huweliksvoorwaardekontrak indien nodig om dienooreenkomstig die partye se bedoeling weer te gee.


6.

^ AD PARAGRAAF 6.4 DAARVAN:

Die inhoud hiervan word ontken en word die verweerderes tot bewys daarvan geplaas en herhaal eiser eiser se pleit soos uiteengesit in die voorafgaande paragraaf.


7.

AD PARAGRAAF 6.5 DAARVAN:

Die inhoud hiervan word ontken en word die verweerderes tot bewys daarvan geplaas en herhaal eiser eiser se beweringe soos uiteengesit in die voorafgaande paragrawe.”


In verweerderes se repliek tot die verweerskrif op die teeneis, het sy as volg op paragraaf 5 daarvan gepleit:


“1.1 Die verweerderes ontken:

      1. dat die lewensregooreenkoms wat as aanhangsel “A” tot die eiser se besonderhede van vordering aangeheg is dieselfde ooreenkoms is ingevolge waarvan die eiser die lewensreg wat aan verweerderes ingevolge klousule 4 van die huweliks-voorwaardekontrak geskenk en/of sedeer is, bekom het;

dat die ooreenkoms ingevolge waarvan die eiser sy lewensreg bekom het ʼn pactum de non cedendo bevat.


1.2 Alternatiewelik tot 1.1, en indien bevind word dat die eiser sy lewensreg wat aan verweerderes sedeer is ingevolge aan “A” tot die besonderhede van vordering bekom het en/of dat ʼn vroeëre lewensregooreenkoms tussen die eiser en Hibiscus Retirement Villages aangegaan ʼn pactum de non cedendo bevat dan beweer die verweerderes dat:

1.2.1 die eiser steeds die skriftelike toestemming van Hibiscus Retirement Villages kan bekom;

1.2.2 alternatiewelik tot 1.2.1, dat die versuim om die toestemming van Hibiscus Retirement Villages voor die aangaan van die huweliksvoorwaardekontrak te bekom geratifiseer kan word; en

1.2.3 die lewensreg steeds aan verweerderes oorgedra en/of gesedeer en/of gelewer kan word,

ten gevolge waarvan dit steeds vir die eiser moontlik is om ingevolge die bepalings van die huweliksvoorwaardekontrak tussen eiser en verweerderes aangegaan, te presteer.”


C: Getuienis van en namens verweerderes:

  1. Uit verweerderes se getuienis blyk dit dat voordat sy die eerste keer met eiser getroud is, was sy getroud met ene mnr. Marais en was hulle woonagtig te Hoopstad. Sy is gedurende 1991 van hom geskei kort voordat hy oorlede is. Sy het in 1983, met ander woorde voor haar huwelik met mnr. Marais, haar eie haarsalon te Hoopstad begin bedryf en toe sy eiser die eerste keer ontmoet het, was hy ʼn boer in Hoopstad distrik. Toe sy en eiser die eerste keer getroud is gedurende 1997, het sy haar huis verkoop en ook haar haarsalon gesluit ten einde saam met eiser op die plaas te gaan bly. Op daardie stadium was haar oudste kind uit haar eerste huwelik eerste jaar op universiteit in Bloemfontein, haar tweede kind was in die koshuis op Hoopstad en haar jongste kind was in die koshuis te Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Hulle was dus slegs gedurende naweke en vakansies op die plaas. Daar het nie ʼn goeie verhouding tussen eiser en haar kinders geheers nie en het dit uit die totaliteit van haar getuienis, ingesluit kruisverhoor, geblyk dat eiser destyds haar kinders van die plaas af weggejaag het, waarop sy ook die plaas verlaat het, welke tot hul eerste egskeiding aanleiding gegee het. Na die partye se eerste egskeiding, het verweerderes aanvanklik `n huis te Hoopstad gehuur totdat eiser aan haar die geld wat hy van haar geleen het wat sy uit die verkoop van haar huis verkry het, teruggegee het. Dit het die bedrag van ongeveer R160 000.00 beloop, welke sy as ʼn deposito gebruik het om weer ʼn huis te koop op Hoopstad gedurende einde 1999. Sy het ook na hul eerste egskeiding dadelik weer begin om ʼn haarsalon te bedryf, maar het getuig dat in die jaar en ʼn half wat sy dit nie gedoen het nie, daar intussen twee ander haarsalonne ook oopgemaak het. Aangesien sy egter drie kinders gehad het wat sy moes versorg, het sy weer begin om die haarsalon se besigheid op te bou. Dit was aanvanklik in die dorp bedryf, maar vanweë die feit dat haar huis ʼn woonstel agter in die erf gehad het, het sy die salon verskuif na die huis ten einde uitgawes te beperk en omdat dit sodoende nader en geriefliker was. Gedurende Oktober 2004 het eiser verweerderes telefonies geskakel en vir haar gesê hy het die grootste fout van sy lewe gemaak, hy het tot bekering gekom, dat hy baie lief is vir haar en dat hy jammer is oor alles wat hy aan hulle (sy en haar kinders) gedoen het. Sodanige tipe telefoonoproepe en sms’e het aangehou tot einde 2004, waarna eiser op 26 Januarie 2005 “by my voordeur gestaan het en ja, dit is hoe dit weer gebeur het”. Dit was dus hoe hulle verhouding weer begin het. Dit moet vermeld word dat hoewel daar in kruisverhoor meerdere stellings aan verweerderes gemaak is met betrekking tot sekere voorvalle wat sou plaasgevind het ten einde te probeer afbreek doen aan haar weergawe soos pas uiteengesit dat eiser haar onverwags skielik in 2004 gekontak het en in Januarie 2005 by haar huis opgedaag het, het sy dit ontken en verduidelik dat die scenario’s wat in die stellings aan haar geskets is, plaasgevind het na 26 Januarie 2005. Ek aanvaar dus hierdie weergawe van verweerderes, aangesien daar geen getuienis tot die teendeel deur die eiser aangebied is nie.




  1. Volgens verweerderes was sy op daardie stadium bewus van die feit dat eiser in die eenheid te Hibiscus gebly het. Na 26 Januarie 2005 het hy egter begin om by haar in die huis te bly en het sy voortgegaan met die bedryf van die haarsalon. Hy het egter aan haar gesê dat hulle eerder moes trou en te Hibiscus moes gaan bly. Sy wou egter eers self daarna gaan kyk ten einde haar te vergewis wat die woonplek aldaar behels. Hy het haar gaan wys en was sy tevrede gewees daarmee.




  1. Verweerderes se getuienis met betrekking tot die rede vir die sluiting van die huweliksvoorwaardekontrak, lees as volg op p. 113, reël 11 tot p. 114, reël 20 van die getikte oorkonde:

“Maar ek het duidelik aan hom laat verstaan ek gaan nie weer in ʼn huwelik in wat ek uit alles uit is en ek het geen vastigheid onder my voete nie, want ek is nie meer ʼn jong mens wat ʼn besigheid weer kan begin nie en ek het weer ʼn keer ʼn haarsalon begin en ek wou vastigheid hê, en wou verseker weet dat ek versorg sal wees.


Is dit wat u vir hom gesê het toe hy nou vir u vra om te trou? ... Korrek.


Wat besluit julle toe? ... Mnr. Genis het na sy prokureur toe gegaan.


Wie is dit? ... Mnr. Gustav le Grange. Dit is nie my prokureur nie, maar in elk geval hy het na sy prokureur toe gegaan en ʼn huwelikskontrak laat optrek, ek was teenwoordig. Ek het die dag vir mnr. Gustav le Grange ook daar gesê voor mnr. Genis dat ek gaan nie weer alles van my los en my besigheid opgee en dan beland ek weer in daardie situasie nie, so daar moet voorsiening vir my gemaak word vir wat kan gebeur, wat ookal kan gebeur. Mnr. Genis het ʼn polis uitgeneem in daardie tyd, ʼn uitkeerpolis wat op die HVK aangetoon is en geskenk is aan my as ʼn, ek weet nie wat nie, hy het dit aan my geskenk.


En wat van die aftreeoord se lewensreg? ... Dit is korrek. Maar ons was by mnr. Le Grange en hy het dit, ons altwee was teenwoordig daar, mnr. Le Grange het dit bewoord en die bewoording wat daar is ..., ek het gesê ek gaan nie weer trou as ek alles moet los en prysgee en weer op straat sit nie.


Is dit hoekom daardie klousules ...? ... Dit is waarvoor daardie klousules ingevoeg is. Mnr. Genis het daardie dag daar gesê, glad nie aanwas nie, want hy het genoeg van aanwas egskeidings gehad en dit is waaroor die klousule ingebring is van gemeenskap van goedere en ek het daarop net eenvoudig gereageer dat ek nie gaan trou indien daar nie voorsiening vir my gemaak is vir die res van my lewe nie.”


Ek meen dat dit nodig is om ook nog na twee spesifieke gedeeltes van verweerderes se getuienis in kruisverhoor te verwys, soos dit voorkom op p. 266, reël 17 tot p. 267, reël 13:

“Ek wil net aan u stel dat mnr. Genis se saak gaan wees, hy sê op sy ouderdom het u en hy met mekaar getrou en julle het twee jaar saamgebly, u het nog steeds wat u nog altyd gehad het, u het nie afhanklik van hom geraak nie, u is derhalwe nie geregtig op onderhoud nie. U het ʼn werk u het nog alles wat u nog altyd gehad het voor u ook vir die kort tyd eintlik saam met hom gewoon het. Wat is u kommentaar daarop? ... Ek sou nie my werk en my huis en my alles gaan verkoop het en gelos het nie en dit was die uitdruklike rede en die uitdruklike ooreenkoms wat hy aangegaan het om dit te doen, om vir my te sorg sodat ek my huis kan verkoop, sodat ek daar kan gaan bly. Ek sou nie met mnr. Genis getrou het indien ek nie versekering daarvan gehad het nie ...

Al wat ek sê is ek sou dit nie gedoen het nie. Die huwelikskontrak is opgestel deur sy prokureur. Ek het baie seker gemaak dat ek seker is en hy het my die versekering ook gegee, mnr. Genis dat ek versorg sal wees vir die res van my lewe. Na die eerste huwelik sou ek nie weer in so ʼn penarie wou beland nie.”


[16] Nadat die huweliksvoorwaardekontrak aangegaan is, is hulle na Margate waar hulle te Shelley Beach getroud is. Na hulle huwelik, het hulle teruggekeer na Hoopstad, aangesien verweerderes steeds haar huis en haar besigheid gehad het. Sy het op daardie stadium by verskeie geleenthede vir eiser versoek dat sy eerder aangaan met haar besigheid, aangesien sy wel oor die huis daar beskik en dat hulle dan daar woonagtig kan wees en slegs vakansietye na die aftreeoord toe gaan. Eiser wou egter niks daarvan weet nie en het aangedring dat sy moes ophou werk en dat haar huis verkoop word. Aan die einde van 2005 is die huis inderdaad vir ʼn bedrag van R375 000.00 verkoop ten opsigte waarvan sy ʼn netto bedrag van ongeveer R300 000.00 ontvang het. Hierdie bedrag geld het sy aanvanklik aan mnr. Genis geleen, maar is dit gemeensaak dat hy dit eventueel aan haar terugbetaal het in die vorm van aandele, welke sy tesame met polisse wat sy afgekoop het, belê het en dus tans oor ʼn belegging van R370 000.00 in totaal beskik. Verweerders het toe ook haar haarsalon gesluit en het hulle aan die einde van 2005 na Margate verhuis.


  1. Ten tyde van haar getuienis in hoof is verweerderes gevra oor waarom die tweede lewensregooreenkoms gesluit moes word. Sy het verduidelik dat vanweë die feit dat eiser ʼn enkelpersoon was toe hy die eerste lewensregooreenkoms gesluit het en slegs R160 000.00 daarvoor betaal het, terwyl as getroude pare daar wil gaan bly dit R200 000.00 kos, was dit nodig om die tweede lewensregooreenkoms teen die ekstra betaling van R40 000.00 te onderteken.


In kruisverhoor oor hoe dit gebeur het dat die tweede lewensregooreenkoms onderteken is, het verweerderes as volg op p. 221, reël 24 tot p. 227, reël 7 getuig, waarvan ek slegs sekere relevante gedeeltes aanhaal:


“Kyk die gedagte tussen die twee van u was nie dat u sou skei op daardie tydstip nie, die idee was gewees en u sou ook daar moes kon bly as hy nou byvoorbeeld sou doodgaan, dan moet u daar kan bly. ... Verseker.


Dit was die lyn waarin u hulle gepraat het. ... Dit is nie die lyn waarin ons gepraat het nie, die lyn waarin ons gepraat het was die feit dat ek nie daar sou gaan bly, dat ek nie met Jan sal trou as ek nie verseker is van my lewe verder aan nie.


Nou was u gedagte dan nou dat hy nou moet kan trek, hy moet nou nie meer daar kan bly dalk as u-hulle skei nie, is dit soos u dit gesien het of het u nie eers daaraan gedink nie? ... Ek het nie eers daaraan gedink nie, ek wou net geweet het in die lig van my vorige huwelik het ek gesê ek gaan nie, ek gaan nie weer alles van my opoffer, trou en bly sonder dat ek versekering het dat ek versorg is nie.

...........


Nadat u-hulle hierdie huweliksvoorwaardekontak geteken het, toe ry u-hulle af terug Margate toe, is dit nie reg nie? ... Ja.


Toe gaan u daar weer na die Hibiscus Retirement Village toe. ... Dit is korrek.


Wat toe gebeur het is, word daar nie toe gaan praat daar met hulle oor die feit dat u hulle gaan nou trou en u gaan nou daar kom bly nie? ... Dit is daaroor daardie tyd gepraat.


Ja, maar met die verteenwoordigers van Retirement, met hulle gepraat? ... Ja.


En toe is dit my instruksies, daar word u gesê al manier waarop dit kan gebeur is, julle moet hierdie ooreenkoms aangaan. ... Ons moet ʼn nuwe ooreenkoms aangaan.


Ja julle moet ʼn nuwe ooreenkoms aangaan. Mevrou baie dankie. ... Hierdie een is gekanselleer. (Met verwysing na die eerste lewensregooreenkoms.)


En wat die dag toe daar gebeur is, dit is nou nadat die huweliksvoorwaardekontrak aangegaan is, toe kom u hulle daar ooreen en u gaan hierdie ooreenkoms aan wat nou gedateer is en wat aangeheg is tot ons dagvaarding en dit is nou die een gedateer 22 Maart 2005 op bladsy 20, is dit nie so nie? ... Dit is korrek.


U teken ook hierdie ooreenkoms. ... Ek moes hom teken, ja.


Natuurlik moes jy hom toe teken. ... Ja.


Want dit is die manier hoe u kan inkom daar. U word toe ʼn borg en ʼn occupier, is dit nie? ... Ja.

..........


En hierdie is nou die ooreenkoms tussen die twee van u. ... Ja.


Ja, en dit is vandag nog so. ... Dit is korrek.


Dit lyk my dit is ook hoe dit altyd verstaan het, want ek sien in die reël 43 het u onder eed verklaar dat die twee van u is eintlik mede-eienaars van hierdie lewensreg. ... Dit is korrek.

..........


U het ook hierdie kontrak so verstaan en toe het u hulle hom so uitgevoer, die twee van u het toe saam gewoon daar, is dit nie? ... Dit is korrek.


En nadat u hulle uitmekaar uit is het hy verder daar gebly. ... Seker.


Ja en tot nou toe bly hy nog daar dit is nog steeds hoe u hulle hierdie kontrak uitvoer, is dit nie? ... Dit is korrek.”


  1. Soos reeds vroeër hierin vermeld, het mnr. Webster, synde die Hoof Uitvoerende Beampte van Hibiscus Retirement Villages, ook namens verweerderes getuig. Ek is nie voornemens om in detail met sy getuienis te handel nie, maar slegs te verwys na die wesenlike aspekte daarvan wat deel vorm van die vraagstukke in die onderhawige geding. Dit moet ook vermeld word dat hy sy getuienis aangebied het aan die hand van ʼn skrywe gerig aan verweerderes se prokureurs van rekord, gedateer 2 Junie 2009, tesame met aanhangsels daartoe, welke skrywe en aanhangsels ontvang is as bewysstuk “G”. Hy het dan ook die gemeensaak-feite bevestig wat betref die aangaan van die eerste lewensregooreenkoms op 8 Oktober 2002, welke gekanselleer is op 22 Maart 2005 toe die tweede lewensregooreenkoms gesluit is, met die besonderhede soos reeds vroeër hierin na verwys. Uit sy getuienis is dit egter duidelik dat daar ʼn onderskeid getref word tussen die sogenaamde “sponsor” of borg wat die persoon of persone is wat die betaling doen ten einde die verblyfreg te verkry, en die okkupeerder of okkupeerders wat dan die persone is wat genomineer word deur die “sponsor” om daadwerklik die eenheid te bewoon. Die geld wat onder sekere omstandighede as “refund” of terugbetaling betaal word aan die borg of die boedel van die borg, soos na verwys onder andere in klousules 13.1 en 13.2 van die tweede lewensreg-ooreenkoms, is dus nie noodwendig gekoppel aan die reg tot okkupasie nie. Gevolglik kan ʼn okkupeerder, wie terselfdertyd ook `n borg is, afstand doen van sy reg op okkupasie sonder om afstand te doen van sy reg tot terugbetaling van die geld onder omstandighede soos in klousule 13.1 van die tweede lewensregooreenkoms uiteengesit. In die onderhawige geval en soos blyk uit ʼn dokument aangeheg tot aanhangsel “G”, het eiser sy reg op terugbetaling van die geld sedeer aan sy dogter, Gertruida Petronella Genis. Dit plaas egter geen beletsel daarteen dat eiser steeds in terme van die tweede lewensregooreenkoms kan afstand doen van sy reg op okkupasie nie.


Mnr. Webster het ook verduidelik wat klousule 2.7, wat op die oog af ʼn sedering van die reg op okkupasie verbied sonder die vooraf skriftelike toestemming van Hibiscus, in praktyk behels. Ter verduideliking het hy vermeld dat indien twee gades in terme van ʼn lewensregooreenkoms beide ʼn reg op okkupasie sou hê, en die een gade sou te sterwe kom en die oorblywende gade hertrou, sal die nuwe gade geen reg op okkupasie hê alvorens daar nie ʼn nuwe lewensregooreenkoms met Hibiscus gesluit is met beide sodanige gades as partye daartoe nie. Dit is, aldus sy verduideliking, wat “without written approval of the Society” beteken. Dit is dan ook die rede waarom daar in die onderhawige geval ʼn nuwe lewensregooreenkoms gesluit moes word met verweerderes ook as ʼn party daartoe. Waar daar egter twee persone is wat in terme van ʼn lewensregooreenkoms ʼn reg op okkupasie het, soos in hierdie geval, kan een van daardie twee afstand doen van sy of haar reg op okkupasie sonder die vooraf skriftelike toestemming van Hibiscus.


Volledigheidshalwe moet vermeld word dat dit uit sy getuienis blyk dat verweerderes se getuienis, wat ek aanvaar haar bona fide persepsie van die situasie was, tot dien effekte dat ʼn nuwe lewensregooreenkoms gesluit moes word omdat R200 000.00 ten opsigte daarvan betaal moes word vir getroude pare en nie slegs R160 000.00 soos in die geval van `n enkelpersoon nie, nie korrek is nie. Die nuwe ooreenkoms moes gesluit word omdat dit die enigste wyse is waarop verweerderes (ook) ʼn bewoningsreg kon verkry. Verdermeer blyk dit dat die verhoging in prys bloot die huidige markwaarde van die tersaaklike eenheid is teenoor die vorige markwaarde van R160 000.00 soos dit gedurende 2002 was.


D: Oorweging van die regsposisie en regsgevolge:

  1. Die regsvrae wat voortspruitend uit voormelde feite en getuienis ontstaan met betrekking tot die afdwingbaarheid van die sedering van die lewensreg of dan die reg op lewenslange okkupasie vervat in die huweliksvoorwaardekontrak, die effek wat die kansellasie van die eerste lewensregooreenkoms en die daaropvolgende sluit van die tweede lewensregooreenkoms op die afdwingbaarheid van die tersaaklike bepalings van die huweliksvoorwaardekontrak het, en dies meer, is op volledige wyse deur beide regsverteenwoordigers voor my argumenteer, ook met verwysing na gesag. Ek het uiteraard daardie argumente, sowel as die gesag waarna ek verwys is, behoorlik bestudeer.




  1. Mnr. Zietsman het ten eerste aangevoer dat die tweede lewensregooreenkoms nie die bepalings van klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak kon wysig nie, selfs nie eers inter partes nie. Ter ondersteuning hiervan het mnr. Zietsman my verwys na `n handboek, waarvan ek die weergawe bekend as ELLIOT: The South Africa Notary, M.J. Lowe et al, 6de uitgawe, kon bekom, waar dit op p. 85, par. 9.1, as volg lees:


“The general rule is that an antenuptial contract, once registered and confirmed by marriage, cannot be altered inter partes.”


Hy het my voorts verwys na ʼn passasie uit die ^ Suid-Afrikaanse Familiereg, Cronje en Heaton, waar dit as volg op p. 111 tot p. 112 lees:


“ʼn Huweliksvoorwaardekontrak verval nie by egskeiding of by die dood van een of albei gades nie. Die bedinge in die kontrak, soos huweliksbevoordelings wat nog nie uitgevoer is nie, moet in die gevalle steeds uitgevoer word. Die huweliksvoorwaardekontrak loop eers ten einde wanneer al die bedinge van die kontrak uitgevoer is.


Tot op die oomblik van huweliksluiting kan die partye nog die huweliksvoorwaardekontrak kanselleer of wysig. As die huwelik egter klaar voltrek is, kan die partye oor die algemeen nie die kontrak self deur ʼn blote ooreenkoms tussen hulle kanselleer of wysig nie, en dit maak nie saak of sodanige kansellasie of wysiging bedoel is om net inter partes te geld nie.”


Ek het ook die tersaaklike uitsprake bestudeer waarna mnr. Zietsman my verwys het en sommige waarvan ook na verwys is in die voetnote wat in voormelde passasies voorkom. Aan die hand hiervan het mnr. Zietsman betoog dat aangesien die huwelik in die onderhawige geval voltrek is en die huweliksvoorwaardekontrak geregistreer is, dit nie gewysig kon word deur die sluiting van die tweede lewensregooreenkoms nie en dat dit waarop in die huweliksvoorwaardekontrak ooreengekom is, dus afdwingbaar is en inderdaad afgedwing moet word.


Teenoor voormelde het mnr. Reinders betoog dat dit duidelik uit die getuienis van verweerderes blyk dat die partye deur Hibiscus meegedeel was dat hulle die tweede lewensregooreenkoms sal moet sluit ten einde dit enigsins moontlik te maak vir verweerderes om ʼn reg van okkupering te verkry. Hulle besluit om die tweede lewensregooreenkoms te sluit met die gepaardgaande kansellasie van die eerste lewensregooreenkoms het tot gevolg dat wat tussen hulle ooreengekom is in die huweliksvoorwaardekontrak, effektief verval het en dat waaraan uitvoering gegee moet word, die terme van die tweede lewensregooreenkoms is. Gebaseer op hierdie argument het mnr. Reinders gevolglik geargumenteer dat die hele vraagstuk oor die pactum de non cedendo derhalwe glad nie eers ter sprake kom of oorweging hoef te geniet nie.


  1. Na my mening kan die vraagstuk na die wysiging, verval ensovoorts van klousule 4 van die huweliksvoorwaarde-kontrak egter eers ter sprake kom indien dit bevind sou word dat dit wat in klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak ooreengekom is, nie strydig met ʼn pactum de non cedendo plaasgevind het nie. Die rede hiervoor is dat indien dit strydig met `n pactum de non cedendo plaasgevind het, dit in ieder geval geen regsgevolge kan hê nie en/of ook nie gewysig kan word nie. Gevolglik meen ek dat die aspek van die pactum de non cedendo eers beslis moet word.




  1. Die omskrywing van ʼn pactum de non cedendo en die regsgevolge daarvan, word as volg opgesom in LAWSA, W.A. Joubert, 2de uitgawe, vol. 2, deel 2, op p. 28, par. 37:


“An agreement preventing a creditor from ceding his or her right against the debtor, a so-called pactum de non cedendo, may be concluded expressly or tacitly:

          1. between the debtor and the creditor at the time when the right which is purportedly being ceded was constituted, or

between the cedent and the cessionary, at the time when the obligationary agreement preceding or accompanying the act of cession was concluded.


In the first instance the restraint is a characteristic of the right itself. From its deception the right lacks the attribute of transmissibility. Since the cedent is unable to transfer a better title to another than his or her own it ought to follow that any cession effected in defines of the undertaking should be without legal effect.” (Eie beklemtoning)


In ^ The Law of Cession, Susan Scott, 2de uitgawe, op p. 213 en 214 word dit as volg verwoord:


“If the restricting agreement is part and parcel of the agreement creating the right, such an agreement is also valid, even if the cedent has no interest in the restraint. In both cases, however, the effect of the pactum de non cedendo is that the cession contrary to the restraint is of no force and effect …

In relation to a right which is created as a non-transferable right, a pactum de non cedendo is valid as the principle of freedom of contract is paramount here and therefore the requirement that the debtor should have an interest in the agreement is unnecessary. A cession contrary to such an agreement is of no force and effect … as the nature of the right is such that it is not transferable.”


  1. Gegewe die datum van sluiting van die huweliks-voorwaardekontrak en die bewoording van klousule 4 daarvan, meen ek dat dit duidelik is dat dit wat in terme daarvan geskenk is deur die sedering daarvan, die lewenslange bewoningsreg is wat eiser in terme van die eerste lewensregooreenkoms bekom het en die enigste bewoningsreg is waaroor hy op daardie stadium beskik het. In die verband is die bewoording van die huweliksvoorwaardekontrak duidelik dat dit telkens verwys na ʼn lewensreg bekom in terme van “ʼn ooreenkoms” en is die lewensreg ook beskryf as synde “ʼn lewensreg verkry (het) op ʼn eenheid om daarin te woon tot by sy afsterwe”. (Eie beklemtoning) Die terme en voorwaardes van die eerste lewensregooreenkoms is dus in hierdie geval ter sprake (hoewel die tersaaklike term dieselfde is as in die tweede lewensregooreenkoms). Die tersaaklike klousule is in besonder klousule 2.7, wat as volg lees:


“The Occupier shall not be entitled to make over, cede, assign or sub-let his rights to occupy the Unit in any way whatsoever or permit any other person to occupy the Unit without the prior written approval of the Society.”


  1. Mnr. Zietsman het betoog en aan die hand gedoen dat bogemelde bepaling wel onder sekere omstandighede ʼn pactum de non cedendo daar kan stel, maar indien die bedoeling van die partye met die aangaan van die klousule in die huweliksvoorwaardekontrak beoordeel word, dit nie in hierdie geval so ʼn beperking daarstel nie. Ter ondersteuning van hierdie argument het mnr. Zietsman gesteun op die uitspraak in MTK SAAGMEULE (PTY) LTD v KILLYMAN ESTATES (PTY) LTD 1980(3) SA 1 (A).


Mnr. Zietsman het betoog dat dit klaarblyklik die bedoeling van die partye was dat in konsiderasie van die voorgenome huwelik, eiser sal sorg of toesien dat verweerderes sodanige lewensreg op okkupasie of okkupasiereg op daardie eiendom het, in die sin van verkry, en ook sal toesien dat hy dan in die proses afstand doen van sy eie sodanige reg, welke bedoeling slaan op ʼn potensiële toekomstige egskeiding. Hy het gevolglik aan die hand gedoen dat dit die bedoeling was dat na huweliksluiting beide partye daar sou bly, maar indien daar ʼn egskeiding sou volg, eiser dan sou toesien dat daardie reg van okkupasie verweerderes sal toekom. Hy het voorts betoog dat dit ʼn bepaling is wat nog nie uitgevoer is nie en dat dit steeds uitgevoer kan word, gegewe mnr. Webster se getuienis dat wanneer verweerderes ʼn mede-okkupant is, soos tans die geval is, daar nie ʼn verbod is daarop dat eiser bloot van sy gedeelte van sy reg op okkupasie kan afstand doen nie, in welke geval die totaliteit van die okkupasie van die eenheid verweerderes sal toeval.


Mnr. Zietsman het egter wel toegegee dat indien die bedoeling van die partye nie as sodanig geïnterpreteer kan word nie, die bepaling in die eerste lewensregooreenkoms wel geag moet word `n pactum de non cedendo te wees en dat die skenking in klousule 4 dan strydig daarmee was.


  1. By nalees van die beslissing in ^ MTK SAAGMEULE (PTY) LTD v KILLYMAN ESTATES (PTY) LTD, supra, blyk daar na my mening ʼn wesenlike onderskeid te wees tussen die feite ten opsigte van die tersaaklike ooreenkoms wat in daardie geval gesluit is in vergelyking met die onderhawige geval. Daar is op 12 A – D beslis dat twee klousules van die beweerde verbode sessie-ooreenkoms mekaar weerspreek en dit derhalwe onduidelik en dubbelsinnig maak. Vanweë dáárdie rede het die Hof die bedoeling van die partye probeer vasstel uit die ander bepalings van die kontrak en het die Hof ook afleidings gemaak van bewese feite wat aangetoon het hoe die partye self die kontrak vertolk het, ook deur hul latere gedrag, ten einde die werklike bedoeling van die partye vas te stel (op 12 F - G).


In die onderhawige geval meen ek dat die bewoording van klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak geensins dubbelsinnig of onduidelik is nie. Uit die bewoording van die kontrak self is daar nie sprake van ʼn moontlike bedoeling dat die afstanddoening bedoel was om eers plaas te vind in geval van ʼn egskeiding nie. Die bedoeling blyk te wees, aldus die bewoording gebruik, en anders as in voormelde uitspraak (op 13 B - D daarvan), dat dit juis die bedoeling was dat daar (onmiddellik) ʼn oordrag of dan sessie sou plaasvind wat verweerderes as die houer van `n lewenslange reg op okkupasie van die eenheid in die plek van eiser sou laat tree vis-à-vis Hibiscus. Daar is geen aanduiding in die bewoording as sulks dat dit die bedoeling was om op die toekoms te slaan nie – of ten minste is daar nie `n dubbelsinnigheid of teenstrydigheid wat blyk uit die bewoording as sulks nie. (Wat na my mening volgens die getuienis die werklike bedoeling van die partye was, sal hierinlater weer deur my aangespreek word.)


By gebrek aan enige dubbelsinnigheid in die bewoording van die huweliksvoorwaardekontrak self, kan ek nie verweerders se getuienis ten opsigte van die bedoeling van die partye, in ag neem nie:

“The reason why rectification is necessary before the true version of the contract can be enforced is that, while the written contract stands unrectified, it excludes evidence to prove the true version, by the combined effect of the parol evidence rule and the rule that no evidence may be given to alter the clear and unambiguous meaning of a written contract.”

Sien ^ THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, R.H.

Christie, 5de uitgawe, op p. 330.

E: Gevolgtrekkings:

  1. Die sessie-ooreenkoms in klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak bots dus na my mening lynreg met die pactum de non cedendo vervat in klousule 2.7 van die eerste lewensregooreenkoms. Gevolglik is klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak ab initio nietig en onafdwingbaar.




  1. Voormelde bevinding het tot gevolg dat dit ook nie op enige wyse geratifiseer kan word deur Hibiscus nie en die daaropvolgende registrasie daarvan het ook nie geldigheid daaraan verleen nie. In ^ WILLE’S PRINCIPLES OF SOUTH AFRICAN LAW, Du Bois, 9de uitgawe, op p. 738 word dit as volg gestel:


“In such cases the agreement confers no legal rights on either party. It follows that there is no contract; it cannot be ratified subsequently by one or even by both of the parties, and the fact that it has been registered cannot validate it. No order of court is required to set the agreement aside for it is worthless and non-existent; but if the agreement has actually been registered, for example, an antenuptial contract, it is safer for the person who does not wish to be bound by the agreement to have the registration set aside by the court. While a void contract confers no right of action on either of the parties, if one of them has actually made performance in pursuance of the agreement the court will in certain circumstances grant him redress by way of restoration of property or of compensation in money.”


  1. Vanweë voormelde bevinding, is dit na my mening gevolglik onnodig om enigsins die vraagstuk rondom die wysiging, aldan nie, van klousule 4 van die huweliksvoorwaardekontrak, te beslis, aangesien daar uiteraard nie sprake kan wees van die wysiging van ʼn nietige kontrak nie. Net so, inaggenome mnr. Reinders se betoog waarna ek vroeër verwys het, hoef ek ook nie oorweging te skenk aan die vraag wat die gevolg is van die feit dat die tweede lewensregooreenkoms gesluit is en die eerste lewensregooreenkoms gekanselleer is vóór huweliksluiting en dat dit wat in die huweliksvoorwaardekontrak sedeer was, dus nie meer bestaan het ten tyde van óf huweliksluiting óf registrasie van die huweliksvoorwaardekontrak nie.

  1   2   3

Add document to your blog or website
Be the first user to rate this..
Your rate:

Similar:

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconCertain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconCertain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconCertain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and icon1. Personal Details

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconPersonal details

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconNote: original document handwritten on 3 parchment pages

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconNote that the information, views and recommendations in this document have been obtained under contract from industry sources as part of Industry Advisory Arran

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and icon[document page ends here] signifies page endings of handwritten document

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconThis document is subject to change without notice. References in this document are not intended to supersede any Wraparound Milwaukee policies or procedures or any portion of the Wraparound Milwaukee Fee-for-Service Agreement

Saflii note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and iconReg. No. Marriage date Names & surnames Ages Condition Rank &c Residence Place Witnesses

Place this button on your site:
Documents


The database is protected by copyright ©znatock 2000-2011
send message
Documents